5 Oktober @ 9:45 Inligtingsessie hoekom ons nie doleer nie

Spesiale gesprek

Daar is tans baie vrae oor kerksake en baie bewerings oor wat die NG Kerk sou sê oor gays, die duiwel, dwaalleringe by teologiese fakulteite, ens. 

5 Oktober @ 09:45 is daar gesprek en inligtingsessie daaroor in die kerk.  Dr Henk kan na jare in die kerkleierskap en bywoning van 10 Algemene Sinodes baie inligting hieroor gee, en sê hoekom ons nie doleer nie.  Enigeen welkom, nie net Oos-lidmate nie.

 

Identiteit van NG Kerk Secunda-Oos

Ons kerk moet weet en sê wat ons is.  Lees daarom ons identiteitsverklaring.

  1. Ons glo in God Drie-enig, ons bely die Bybel as Woord van God, ons dien slegs God as Hoof van die kerk, en wil sy liefde uitleef in diens. Kortliks WWW: Woord, Waardes, Warmte
  2. Ons fokus op die grootste nood tans, bv. ongeloof, kerklosheid, versoening, armoede, uitbou van sy koninkryk, eenheid as kerk, en wil nie dat konflik ons aandag aftrek van hierdie ‘olifante’ nie.
  3. Ons roeping in Secunda vra dat ons voluit saamwerk met ander kerke, veral elke NG gemeente, en in besonder Goedehoop.
  4. Ons staan by die Belydenisskrifte maar is oop vir Bybelse vernuwing volgens die gereformeerde beginsel ’gereformeerd maar moet ook steeds reformeer/ reformata sed semper reformandum’.
  5. Ons bly verbonde aan die Kerkorde as beproefde metode waartoe ons deur belofte ons verbind het.
  6. Ons bly verbonde aan die NG kerkverband in ring, sinode en algemene sinode om ons roeping beter gesamentlik te bereik en omdat geen kerkordelike getoetste bewyse gegee is dat hierdie verbande afwyk van Woord en belydenis nie en skeuring nodig is nie.
  7. Ons bly verbonde aan die kerkordelike tugproses wat primêr by kerkrade en ringe berus, net sekondêr by sinodes, en vra dat alle gerugte en bewerings amptelik vir hantering aangemeld word.
  8. Ons bly verbonde aan respek vir medegelowiges, vir getoetste waarheid en vir direkte kommunikasie wanneer ons verskil, en vermy verdagmakery.